Liewe
mens en mede-Afrikaner, ons het nou meer as ooit nodig om ons gevoel van
identiteit te verhoog van mens- en Afrikanerwees na Goddelike Medeskeppers en Kosmiese
Inwoners. Enige persoon wat in ʼn spesifieke kultuur opgroei word onvermydelik
blootgestel aan (en in baie gevalle geïndoktrineer deur) die normes, waardes en
geloofssisteme van daardie kultuur. Alle kulture regoor die wêreld plaas egter
beperkinge op menslike wesens; kulture programmeer hul mense om ʼn identiteit gebaseer op wêreldse /
materialistiese eienskappe te aanvaar. Die werklikheid is dat alle mense baie
méér is as hul huidige gevoel van identiteit, méér as jou biologiese
samestelling, méér as jou familie agtergrond, méér as jou ras en nasionaliteit,
méér as jou geslag, méér as jou beroep of die posisie wat jy tans in die
menslike sosiale ranglys beklee.
Die
lewens wat ons op Aarde leef vorm ʼn skamele fraksie van die tydlose
lewens wat ons hoofsaaklik in die geestelike ryke deurbring. Jy is eerstens ʼn universele,
geestelike wese. Jy en jou gevoel van identiteit is NIE geskep die dag toe jou
fisieke liggaam gebore is NIE; jou geestelike wese bestaan alreeds byna ʼn
ewigheid. Kom ons maak eers die konsepte van “Gees” en Goddelike Herkoms effens
duideliker voordat ons ons eie wesens se ontstaan, sommige van die redes vir
ons siele se koms na die Aarde en Afrikanerwees gaan aanraak.
God
se Gees is dieselfde as Sy Bewussyn
/ die ganse Kosmos. Die geestelike betekenis van God se Bewussyn is dat alles
en almal vanuit die Een Verstand, die Bewussyn van God, ontstaan het. God se
totale Wese bestaan uit verskillende vlakke van Bewussyn en vibrasies en selfs
ʼn vlak (die Duisternis) waarin daar géén vibrasies is nie. Alhoewel God se Gees vormloos is beskik dit oor Bewussyn,
Energie, Lig en Heilige Kwaliteite. Menslike woorde en beelde faal
liederlik daarin om die aard van God se Suiwer Wese voor te stel, maar kom ons
gebruik, hoe onvolledig en oorvereenvoudig dan ook al, tog die volgende
denk-eksperiment in ons strewe na ʼn hoër begrip van die Duisternis van die Heilige.
Stel jou voor jy staan in ʼn stikdonker vertrek. Jy kan net mooi niks sien nie,
nie eers jou eie hand of liggaam nie. Kom ons veronderstel verder dat jy nie
eers jou eie liggaam kan voel nie. Alhoewel jy niks kan sien of voel nie, is jy
tog bewus dat jy daar is; dat jy bestaan. Met ander woorde, jy is hiér en
terselfdertyd ook orals; jy IS eenvoudig net, ten spyte van jou vormloosheid.
God se allesomvattende Selfbewussyn IS Sy Gees en ook insluitend van Sy Heilige
Natuur en -Kwaliteite. Nou kan jy jouself indink dat die hoogste Bewussyn wat
daar bestaan die allesomvattende Suiwer Vormlose Selfbewussyn van God is. Alles
is eenselwig in hierdie Suiwer Wese van God, ja, selfs manlik én vroulik. (Ter
wille van leesgerief hou ons by die algemene gebruik van Hy/Sy/Hom.)
As die Suiwer Bewustheid van God
geen vorm besit nie, is die vraag natuurlik: Hoe het ons, hemelse wesens en
geestelike ryke dan hul onderskeie gestaltes (vorme) verkry? En verder: Hoe kan daar verandering en
vooruitgang voortspruit uit iets wat vormloos en volkome in Sigself is? In die
begin was daar slegs God as Suiwer Wese, maar op ʼn stadium het ʼn ander tipe
Bewustheid van Sigself ontstaan. Hierdie Bewustheid het Self herken as "EK
IS" en dít het aanleiding gegee tot die Goddelike Begeerte om Méér te
wees; Méér as vormlose Duisternis – om deur die skep van vorme uiting te gee
aan Sy Skeppingsdrang. In die Bybel benoem God Homself as volg: “Ek IS wat Ek
IS”. Die benoeming “Ek Is” is deur God aan Moses gegee op die berg Sinai: “Daarna sê Moses vir God:
‘Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle
voorvaders het my na julle toe gestuur’ en hulle vra vir my: ‘Wat is Sy Naam?’
wat moet ek dan vir hulle sê?’ Toe sê
God vir Moses: ‘Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my
na julle toe gestuur’.” (Eksodus 3: 13-14)
Vertalers
het hierdie
sin vertaal as “Ek is wat Ek is”. Vir die doeleindes van hierdie artikel
(en die reeks “Wie Praat Nou?” boeke), vervang ek dikwels “wat” met “dat”,
en wel omdat ons geneig is om menslike kwaliteite op God te projekteer waarvan
ons dan egoïstiese afleidings maak. Dieselfde kan met hierdie selfbeskrywende
woorde van God gebeur. Sou jy aan iemand anders sê dat jy is wat jy is
beteken dit dat jy geen behoefte het om enige aspek van jouself te verander of
te verbeter nie. God is wat Hy is, ja, maar God is ook dat Hy is.
Na my beskeie mening laat die woord “dat” heelwat minder ruimte vir verwarring
van begrip. As jy aan iemand sê: “Ek is dat ek is”, sê jy eintlik aan
daardie persoon dat jy beslis bestaan, maar nie in woorde kan sê wie of wat jy
werklik is nie. In elk geval, hierdie
vervanging van “wat” met “dat” is eintlik nie van belang wanneer ons van God
praat nie – dit was bloot om jou te laat insien hoe maklik ʼn eenvoudige woord ons kan
mislei. In werklikheid het God Moses geantwoord met: “Yod He Vaw He.” Indien dít letterlik
vertaal word, beteken dit: “Ek sal Wees wat Ek sal Wees”. Dít impliseer dat die deel
van God wat Homself as die ewige Skepper gerealiseer het Sigself voortdurend
kan verander; dit impliseer dat God die Skepper konstant groei,
evolueer en Homself transendeer. Dus, God die Skepper is nié staties nie en
daarom sal God op enige oomblik wees wat Hy IS en sal Wees.
Ek
Is/die Skepper is dus die hoogste en eerste individualisasie van God se Suiwer
Wese. God die Skepper is (net soos die hoogste vlak van God) ʼn
Self-onderhoudende Wese, maar dit is uit Sy/Haar begeerte om Méér te wees dat
verskeie hemelliggame, hemelse wesens en medeskeppers geskape is. Omrede elke
engel, medeskepper en alles anders wat bestaan, geskape is uit ʼn begeerte om
Méér te wees, mag geeneen van ons ooit vassteek in ʼn spesifieke gevoel van
identiteit nie! God het nooit enige iets geskape wat bedoel is om staties en
onveranderlik te wees nie. God is wel perfek, maar nie volgens menslike
standaarde nie. God se Suiwer Wese (die duisternis) is wel sonder verandering, maar die Skepper is nié staties nie;
Hy/Sy is die ewige Skepper. So baie mense redeneer dat iets wat perfek is,
nooit kan verander of groei nie. Hierdie is ʼn mite en dit spruit vanuit ʼn lae
bewussynsvlak waarin die mensdom oor die eeue heen verval het. God se bedoeling
is dat alles wat Hy geskape het, moet groei of evolueer en ditself sal oortref.
Wat is die doel van hierdie groei en self-oortreffing? Dit is dat Sy Skepping sal
groei in bewustheid – dat dit mettertyd sal besef waar dit vandaan kom, naamlik
dat dit ʼn uitdrukking, ʼn materialisasie, van God Homself is. Die suiwer Wese
van God is buite enige beperkinge en daarom het die term “beperkinge” geen
betekenis vir God nie. Dit is nogal moeilik om ʼn mens in te dink dat iets vir
ewig Méér kan word; dat die Skepper geen beperkinge op verbeelding het nie.
Tog, dis die hoogste waarheid.
Toe
die Skepper die kreatiewe proses begin het, het Hy gesê: “Laat daar Lig wees!”
Tydens hierdie proses het die Skepper vanuit Sy Eie Vormlose en Onbegrensde
Bewussyn ʼn stof, nl. Lig onttrek. Hierdie Lig is geestelik én materieel van
aard; geestelike Bewustheid én materiële liggolwe. Voor ons verder gaan is dit
nodig om eers ʼn hoër begrip van “Lig” te verkry. Die “Lig” waarvan die Bybel praat en die Lig wat ons sover bespreek het
word deur die wetenskap as o.a. “energie”, “lig” of “die elektromagnetiese
spektrum” genoem, maar in spirituele kringe word dit Moeder-God, die Moeder of
die Ma-ter Lig genoem. (“Ma-ter” is ʼn Latynse woord wat “moeder” beteken.) Lig
is nié bloot sigbare lig of sonlig nie; dit strek baie dieper en verder. Ons
menslike, wetenskaplike verduideliking van Lig sluit die hele elektromagnetiese
spektrum in. Die elektromagnetiese spektrum sluit o.a. die volgende vorme van
Lig in: radiogolwe, mikrogolwe, infrarooi strale, die kleure van die reënboog, sonlig, ultraviolet strale,
X-strale, gamma strale en Kosmiese strale – almal IS Lig! Soos wat ook reeds ou
nuus is: Die versending van klankgolwe benodig lug of ʼn ander materiële medium, terwyl Liggolwe vryelik beweeg,
selfs deur ʼn vakuum of in die buitenste ruimte. Die energie van geestelike Lig
is verder ook iets wat geen vorm in sigself het nie, maar wat oor die
potensiaal beskik om enige vorm aan te neem. Met ander woorde, in die Kosmiese
Oseaan is die Moeder Lig ʼn byna oneindigende energieveld wat in Haar suiwerste
vorm sonder vibrasies is, maar wel oor die potensiaal beskik om enige vibrasie
te kan aanneem. Lig is dus die mees subtiele manifestasie van die Skepping én
dit staan onafhanklik van enige materiële vorme. Lig is soos die Kosmiese Klei
wat deur die Meester Beeldhouer gebruik word om ryke binne-in ryke te skep.
Omdat
die Skepper so te sê geboorte gegee het aan Lig, het dit vanuit God se vroulike
dimensie na vore gekom (en daarom is Lig ook ʼn vorm van Bewustheid). Die
hoogste vlak van God én die Skepper is derhalwe paradoksaal beide manlik én
vroulik, die Vader én die Moeder. Die Lig is ʼn vorm wat deur Sy-Haar innerlike
skeppende handeling tot stand gebring is, en as sodanig is Hy-Sy dan ook in die Lig teenwoordig. (Dis hierdie
soort Goddelike paradokse wat ons menslike verstand te bowe gaan en daarom
bewys dat Hy bo alle menslike logika is.) Ons Skepper IS Alfa en Omega. Die
Skepper/Alfa en Omega is één Wese en Hulle verteenwoordig die tweeling-aspekte
van God se skeppende eienskappe. Vanaf ʼn menslike oogpunt kan ons hierdie twee
polariteite as manlik (Alfa) en vroulik (Omega) aansien, maar hulle is ver
buite die menslike begrip van seksualiteit. Dit is vanuit die harmonieuse
interaksie van hierdie twee Goddelike polariteite wat almal en alles ontstaan
het en daarom beskik almal en alles wat bestaan dus oor Alfa én Omega aspekte.
• Alfa is die Begin, die manlike
polariteit, die Skeppende Vader, die uitbreidende of plus krag, die uit-asem of
die Yang. Die rede waarom Alfa “die
Begin” is, is omdat Alfa die kreatiewe proses ingelei of begin het. Hy het
daarom ook die ontwerpbeginsels vir die ontplooiing van ál die ryke van vorm
(hierdie materiële heelal van ons ingesluit) daargestel. Hierdie
ontwerpbeginsels vorm dan ook die Wette van God en alle vorme is daarop
gebaseer. Die Alfa aspek verteenwoordig verder ook die universele Wet van Meer;
die Wet van konstante Groei en Self-oortreffing. Die natuur van God die Vader
is dus om uit te brei, te groei en te Self-oortref. In terme van medeskepping
is die Alfa aspek (binne-in elke geestelike en menslike wese) veronderstel om
die vloeikrag te wees waarmee jy in harmonie met God se wette sal meeskep.
• Omega is die Einde, die
vroulike polariteit, die Skeppende Moeder, die saamtrekkende of minus krag, die
inasem, oftewel die Yin. Die rede
waarom Omega “die Einde” is, is omdat die kreatiewe proses by Haar eindig. Haar
energie maak nuwe vorme en lewe moontlik en verskaf ook Vryheid (van Wil,
keuses en medeskepping) aan alle Lewe. Die Omega aspek verteenwoordig die
universele Wet van Eenheid. Eenheid beteken nié eendersheid nie - tog, daar is
steeds eenheid in verskeidenheid! Die Moederkrag verseker dus dat alle lewe in
dieselfde rigting groei en dat verskille mekaar versterk, in plaas van
uitkanselleer. Die Wet van Eenheid en die kern van Goddelike Liefde bepaal dat
alle Lewe vanaf dieselfde Bron afkomstig is en daarom is alles en almal verbind
– op ʼn baie diep vlak. Alle Lewe is bedoel om as ʼn onderlingverbonde Geheel
(ook soms die “Rivier van die Lewe” genoem) vorentoe te beweeg. Die natuur van
die Moeder is dus om saamtrekkend te wees sodat groei geleidelik en
gebalanseerd plaasvind. In terme van medeskepping is die Omega aspek binne-in
elke geestelike en menslike wese die vloeikrag waarmee jy in harmonie met jou
geestelike broers en susters en omgewing sal meeskep.
Noudat
jy ʼn bietjie meer agtergrond kennis het kan ons verder uitbrei op jóú gees en
siel se ontstaan en herkoms.
Jou
Gees of geestelike Self -
• is ʼn geïndividualiseerde
gedeelte van die Skepper se Gees. ʼn
Geïndividualiseerde gedeelte kan
rofweg soos volg begryp word: Maak jou oë toe en sien in die middel van jou
geestesoog se omtrek ʼn helder en intens wit vlam. Vanuit hierdie wit vlam straal
die allermooiste kombinasies van kleure en patrone. Kom ons veronderstel nou
verder dat jy in staat is om hierdie geestesbeeld op ʼn A4 vel papier te kan uitdruk. Wanneer jy
na die bladsy kyk, lyk dit asof die kleure en patrone solied en egalig is, nie
waar nie? Wel, almal weet dat ʼn drukker in werklikheid duisende kolletjies van
verskillende kombinasies van kleure so naby aan mekaar druk dat die eindproduk
as ʼn geheel voorkom. Nou kan
jy jou eie gees voorstel as een van daardie kolletjies in die Skepper se Gees.
Jóú gees
bestaan dus uit ʼn unieke kombinasie van Goddelike Vlamme, oftewel kwaliteite.
En een van die oorsigtelike redes vir jou koms na die aarde is om jou unieke
kwaliteite hier te kom uitdruk en die donkerte hierso te transformeer. Jou
Goddelike Vlamme beskik natuurlik ook oor ʼn Alfa- én ʼn Omega-aspek. Die
Alfa-aspek van jou Godvlam is daardie spesifieke Goddelike Vlam, oftewel
Kwaliteit, waaruit jou gees ontstaan het. Die Omega-aspek van jou Goddelike
Vlam is die spesifieke geskenk wat jy aan hierdie wêreld kan gee. Byvoorbeeld, raak jy meestal
opgewerk of hartseer wanneer mense baklei en tree dikwels tussenbeide in ander
se gevegte? Dan is jou Goddelike Vlam heel moontlik uit die Vlam van Vrede
(Alfa-aspek) en jy het gekom om vrede te bring, tesame met die geskenk van
Rigting en Leiding (Omega-aspek). Deur gebed, meditasie en intuïsie kan jy vasstel wat
presies joune is.
• word soms ook jou “Ek Is Teenwoordigheid”
genoem, want die naam wat God van Homself aan Moses gegee het is: “EK IS DAT EK
IS” en daarom is jou gees jou Ek Is Teenwoordigheid.
• word met volle Godbewustheid geskape en is
ʼn ewiglewende geestelike wese.
• het dus ook nie ʼn uiterlike gestalte of
vorm nie. Voordat die Skepper enige bepaalde vorm manifesteer, moet Hy eerstens
ʼn verstandelike beeld daarvan vorm. Jou geestelike Self is aanvanklik die
Skepper se verstandelike bloudruk van jou unieke individualiteit en die
verskillende kombinasies van Goddelike Kwaliteite wat van jou ʼn unieke
uitdrukking van God se Wese sal maak. Hierdie verstandelike beeld of bloudruk
van jóú individuele identiteit is op hierdie stadium egter nog nie ʼn
self-bewuste wese nie; jou bloudruk is steeds slegs ʼn konsep en nie ʼn
gemanifesteerde wese nie. Eers wanneer die Skepper tevrede is met Sy
verstandelike voorstelling van jou wese, “blaas” Hy lewe in jou bloudruk in.
Die lewe wat in jou bloudruk geblaas word, is wanneer die Skepper ʼn deeltjie
van Sy eie Selfbewustheid aan jou
bloudruk skenk. Tydens hierdie oomblik van skenking word die “Bewuste Jy”,
“Bewuste Ek” of jou “Bewuste Self” gebore.
• is permanent geanker in die hoogste
geestelike ryk en vorm die Alfa of manlike polariteit van jou totale wese.
Jou
siel –
• is die Omega-polariteit van jou
geïndividualiseerde geestelike Self. In beginsel is daar nie ʼn groot verskil tussen jou
siel en jou Gees nie; die verskil is grootliks ʼn verskil in vibrasie. Dít
beteken dat jou
geestelike Self jou siel uit eie energie geskep het; dat jou gees ʼn deel van
ditself verlaag het in vibrasie. Die vibrasies van die geestelike Self is te
hoog en intens om na die materiële heelal te daal. Jy kan jou indink dat indien
jou suiwer gees (of die hoogste vlak van die Skepper) na die aarde moes daal,
dit soos ʼn verterende vuur sal optree en alles wat van laer vibrasies as
ditself is sou verteer en laat verdwyn. Juis omdat jou gees van sulke hoë
vibrasies is, kan jy as gees slegs in die geestelike ryke meeskep, maar op ʼn
stadium het jou gees besluit dat dit nie langer as ʼn buitestander na die
ontwikkeling van die materiële heelal (en Aarde) wil toekyk nie; jy wou direk
en van binne hier kom help en meeskep.
Die energie van die siel
is dus ook geestelik van aard, alhoewel dit slegs teen ʼn effens hoër frekwensie
as die energie van die materiële heelal vibreer en daarom kan die siel die laer
vibrasies van die materiële heelal betree. Die siel is dus nié van hierdie
wêreld nie. Wanneer daar op ʼn tradisionele manier na die siel verwys word
beteken dit dat die siel daardie deel van jou identiteit is wat ditself in ʼn
vleeslike liggaam kan beliggaam, asook dat dit daardie deel van jou wese is wat
voortleef na die afsterwe van jou fisieke liggaam.
• bevat beide Alfa (of manlike) én Omega (of
vroulike) aspekte, ten spyte van die feit dat jou siel die Omega polariteit van
jou totale wese is. Siele is egter oorheersend manlik of vroulik. ʼn Manlike
siel se totale manlike energie sal ongeveer 60% wees en die ander 40% sal
vroulike energie wees. ʼn Vroulike siel se totale vroulike energie sal ongeveer
60% wees en die ander 40% sal manlike energie wees. Afgesien van ʼn siel se
oorheersende energie, kan dit ʼn vleeslike liggaam van enige geslag betree.
Regdeur die
Bybel, maar veral in Spreuke, sien ons hoedat die woord “vrou” gebruik word om
mense teen o.a. afdwalinge, onreinheid, dwaasheid, ens. te waarsku. “Vrou” is
die geestelike wyse van spreuke om die Bewuste Self of die vroulike aspek van
elke wese te beskryf. Dit is die Bewuste Self wat aan elke wese die vermoë gee
om in te skakel by die energie van die materiële heelal. Spreuke waarsku dus
élke mens of siel teen sy/haar éie vroulike aspekte - wat na afvalligheid kan lei, indien dit nie
bedwing word nie.
• beskik wel oor ʼn uiterlike gestalte, of vorm; dit
bewoon ʼn Lig-liggaam tydens sy/haar bestaan in die geestelike ryke. Hierdie
Lig-liggame lyk byna net soos die menslike liggaam wat ons vandag ken, maar dit
is van baie hoër vibrasies.
• word NIE met volle Godbewustheid geskape
nie; dit is die doel van die siel om geleidelik sy/haar bewussyn te verhoog tot
volle Bewustheid van God. Wanneer die siel Eenheid met eie geestelike Self /
God behaal het, het dit die Christusbewussyn behaal en dán sy/haar onsterflikheid
verdien. Die siel is daardie deel van Self wat geval het en daarom is die siel
NIE aanvanklik ʼn ewiglewende geestelike wese nie.
Wesens wat as medeskeppers geskape word begin met ʼn
beperkte gevoel van identiteit en selfbewustheid; ʼn nuut geskape siel kan vergelyk word met ʼn
kind wat nog nie hom/haarself en die lewe ten volle ken nie. ʼn Jong siel is dus
nie ten volle bewus van sy/haar eie kreatiewe vermoëns, God, Sy wette en die
omvang van die Skepping nie. Sou ʼn jong siel van die begin af oor volle
kreatiewe vermoëns beskik het, dan kon dit met ʼn enkele verkeerde gedagte die
hele Heelal opslag uitwis. Hierdie is dan die rede waarom ʼn jong siel deur ʼn
geleidelike proses moet gaan - die proses van groei in begrip en volwassenheid.
Die siel leer geleidelik hoe om sy/haar individualiteit op ʼn manier uit te druk
wat nié afbrekend vir ditself of ander Lewe sal wees nie. Soos wat ʼn siel deur
hierdie proses gaan, verhoog sy/haar kreatiewe vermoëns; soos wat ʼn siel bewys
dat hy/sy getrou aan ʼn paar dinge kan wees - ʼn kleiner gedeelte geestelike Lig
en kreatiewe vermoëns – so sal die Skepper dan geleidelik aan daardie siel Méér
gee.
Die
Lewende Woord vertel dat die ganse Skepping tans uit 33 geestelike ryke en die
materiële heelal bestaan. Die ryk/hemelliggaam wat oor die hoogste vibrasies
beskik is die naaste aan die Skepper se kern geleë. In terme van vibrasie daal
en volg die ander ryke op mekaar en die Aarde en Haar energieveld se vibrasies
is huidiglik die laagste van al die hemelliggame in God se Skepping. Omrede die
Aarde die digste Woning in God se Huis is, is dit die tuiste van gevalle engele
en gevalle medeskeppers. (Hierdie situasie is dan o.a. een van die redes waarom
daar soveel wandade op Aarde te vinde is.) Die Val van wesens gebeur wanneer
sommige wesens op ʼn stadium (in die geestelike ryke) dinge begin skep op wyses
wat teen God se Wil en Wette is. Só het sommige wesens in dualisme verval. Die
begrip “Val” beteken ook dat wesens se persoonlike vibrasies “val” of verlaag. Enige
hemelse wese of siel wat hul persoonlike vibrasies, d.w.s. hul bewussynsvlak
verlaag, Val na ʼn laer vlak van die Skepping wat met hul eie lae vibrasies
resoneer. Dieselfde geld vir alle medeskeppers wat uit die Tuin van Eden
“gewerp” is. In werklikheid “werp” elkeen hom/haarself uit ʼn ryk van hoë
vibrasie. Die wesens wat permanent in die geestelike ryke woon en nooit weer ʼn
vleeslike liggaam hoef aan te neem nie is die wesens wat hul vrye wil en
kreatiwiteit binne die raamwerke van God se wette gebruik en daarom verkeer daardie
wesens én hul geestelike ryke in ʼn staat van Verligting. Die geestelike ryke
beeld dus slegs harmonie en prag uit.
Die Aarde dien dus o.a. as ʼn geestelike skool vir nuwe en
gevalle siele / medeskeppers. Daar is ten minste drie uitkenbare redes is waarom
geestelike wesens hulself in vleeslike liggame op Aarde bevind, nl.:
• Wesens wat vanuit ʼn hoër geestelike ryk
geval het. Sommige van hierdie wesens het aangehou met val totdat hulle in die
Aardse ryk geëindig het. Party van hulle was of onwillig om te groei en hulself
te oortref, of party het aangehou om deel te wees van ʼn dualistiese bewussyn.
• Wesens wat nuwe jong medeskeppers is en wat
veronderstel is om hier te kom leer en groei, en wel deur hierdie deel van die
Skepping te ervaar. ʼn Groot hoeveelheid van hierdie wesens het egter tydens hul
Aardse lewens geval.
• Wesens wat vrywilliglik onderneem het om
hierheen te kom om hul gevalle geestelike broers en susters en veral dan die
jong medeskeppers te help groei in hul bewustheid.
Ons Afrikaner kultuur is ʼn wonderlike en warm kultuur. Ek is baie lief
vir ons taal, mense en land, Suid-Afrika. Ek is ook baie lief vir ons
tradisionele kosgeregte, ons goeie humorsin, sportgeesdrif en alles wat
positief eie aan ons is. Alle soorte postiewe eienskappe van Afrikanerwees (en
enige ander kultuur) moet behou en beskerm word. Verskeidenheid binne eenheid
IS Goddelik! “Eenheid beteken nié eendersheid nie - tog, daar is steeds eenheid
in verskeidenheid!” Dit is juis hierdie Eenheid binne verskeidenheid waaraan
ons moet werk. Jy is deel van die Geheel en
Eenheid van God en daarom moet jy verstaan dat jy slegs waarlik gelukkig en
vervuld sal wees indien jy volgens God se wette meeskep - wat o.a. beteken dat
jy tydens jou aardse lewe sal streef na die opheffing van alle Lewe op Aarde.
Hullo Thalita, welkom by die wereld van blogging.
ReplyDelete